23 Februarie 2012

WETENSKAP EN GODSDIENS NIE TEENOOR MEKAAR

Wilhelm Jordaan skryf vandag in Beeld oor die voortdurende konflik-gesprek in die media oor wetenskap vs godsdiensDie wetenskap "versamel feitelike kennis en formuleer teorieë oor die natuurlike wêreld. En toets voortdurend teorieë in ag genome nuwe feite. Evolusie en die ouderdom van die aarde is voorbeelde daarvan.

Gelowiges kan dit met verrukking en verwondering aanvaar as wetenskaplike waarheid wat aangevul en gewysig word soos wat kennis toeneem. Godsdiens vra egter ander vrae. Nie byvoorbeeld hoe oud die aarde is nie (dit is ’n wetenskaplike vraag), maar vrae soos: Waarom is daar iets pleks van niks? Waarom en waartoe die mens? Dit het te make met betekenis en singewing – ’n menslike impuls nét so sterk as die wetenskaps­begeerte om steeds meer van die natuurlike wêreld te weet.

Daarom vertel mense stories om geloofs- en lewenswaarhede uit te druk en te ervaar, byvoorbeeld Bybel-stories, Koran-stories en Talmoed-stories. Daarvolgens kan ’n mens dan met oortuiging sê: Ek glo in ’n God omdat dit sin gee aan my bestaan, want dit is vir my die beste antwoord op lewensvrae."

Argief >>

LEES MEER >>

GROND EN BEGROTING

Twee hoofitems is die Begroting van die minister van finansies, Pravin Gordon, vanmiddag in die Nasionale Vergadering van die Parlement in Kaapstad, en die regering se Grondhervormingsbeleid.

Grondhervorming gaan hierdie jaar op die spits gedryf word. Die minister van landbou, me Tina Joemat-Pettersson, het boere gister op die beleidskongres van Agri SA gewaarsku dat hulle (die boere!) na die regering moet kom met alternatiewe vir die beginsel van gewillige koper/verkoper in grondhervorming.

Die beleidskongres van die ANC is op pad (26-29 Junie in Midrand). Die debat oor grondhervorming gaan "baie warm" wees. Sy't egter onderneem om haar nie ten gunste van die nasionalisering van grond uit te spreek nie. Intussen is die onbeholpenheid (daar's selfs sprake van korrupsie) van haar departement om die proses die afgelope jare te bestuur, op dieselfde dag ontbloot voor die portefeuljekomitee-vergadering in Kaapstad oor Grondhervorming. Een en een maak hier nie twee nie. 

Argief >>

LEES MEER >>